Senior bestuur

       
 

 

 

 

Betaaltelevisie

Eben Greyling

Uitvoerende Hoof: Betaaltelevisieplatforms

Eben Greyling het in 1996 by die MIH-groep aangesluit as groep finansiële bestuurder van MultiChoice. In 1997 is hy as hoofbestuurder: bedryf aangestel en in 1999 as finansiële hoof van MultiChoice. In 2000 het hy finansiële hoof geword van MIH Betaaltelevisieplatforms, ’n pos wat hy beklee het totdat hy in 2005 as uitvoerende hoof van MultiChoice in Afrika suid van die Sahara aangestel is. Eben is ’n geoktrooieerde rekenmeester en het sy leerkontrak by PricewaterhouseCoopers voltooi. Hy het tot 1995 verskeie betrekkings in die oudit- en die korporatiewe finansies-afdeling van PricewaterhouseCoopers beklee.


 

Graham Kill

Uitvoerende Hoof: Irdeto

Graham Kill het as finansiële en bedryfsdirekteur by Irdeto aangesluit en is in 1995 as finansiële hoof aangestel. Hy het in 1998 uitvoerende hoof van Irdeto geword. Graham het voorheen bestuursposte by USC, British Gypsum en die British Coal Corporation beklee. Voordat hy by Irdeto aangesluit het, het Graham as korporatiewe finansies-assosiaat vir die FilmNet-groep (later NetHold) gewerk. Hy was aktief betrokke by sakeontwikkelingsinisiatiewe vir betaaltelevisie, by verskeie verkrygings asook by finansieringstransaksies. Graham het 'n MBA-graad aan die Rotterdamse Bestuurskool verwerf en 'n ingenieursgraad aan die Universiteit van Nottingham. Hy is 'n geregistreerde Europese ingenieur, 'n geoktrooieerde ingenieur en 'n geoktrooieerde direkteur in die VK.


 

Imtiaz Patel

Uitvoerende Hoof: MultiChoice-groep Suid-Afrika

Voordat hy by die groep aangesluit het, was Imtiaz Patel direkteur van beroepskrieket by die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika. Hy het in 2000 as direkteur van ondernemings by SuperSport aangesluit en later ook die rol as hoof van produksie aanvaar. In Maart 2005 is hy as uitvoerende hoof van SuperSport aangestel. Gedurende sy ampstermyn het Imtiaz Harvard se program vir senior bestuurders by die Sakeskole van die Universiteit van Witwatersrand en Harvard Universiteit voltooi. Hy was verantwoordelik vir die transformerende uitsaairegte-ooreenkoms met die PSL en het in 2009 Naspers se gesogte Phil Weber-toekenning ontvang. Gedurende hierdie tyd het SuperSport sy uitsaaikanale van 9 tot 24 uitgebrei, met uitsaaidienste regoor Afrika suid van die Sahara.


 

Mark Rayner

Hoofbedryfsbeampte MultiChoice Suid-Afrika

Mark het in Maart 2007 by die Naspers-groep aangesluit as finansiële hoof van DStv Mobile en is in Oktober 2008 as uitvoerende hoof aangestel. Onder sy leiding is verskeie mobiele televisiedienste oor die Afrika-vasteland onder die DStv Mobile-vaandel bekend gestel, voordat hy in Oktober 2013 as hoofbedryfsbeampte by MultiChoice Suid-Afrika begin het. Hy het voorheen verskeie finansiële poste in die Bidvest-groep beklee, waaronder groep finansiële kontroleur van Bidcorp Plc, 'n LSE-genoteerde vervoergroep, en finansiële direkteur van Dartline Limited, 'n kortafstand-skeepsredery. Mark is 'n geoktrooieerde rekenmeester en hy het sy leerkontrak by KPMG voltooi.


 

Nico Meyer

Uitvoerende Hoof: MultiChoice Afrika

MultiChoice Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Nico Meyer, is in Oktober 2009 in sy huidige pos aangestel. Voor dit was Nico die finansiële hoof van MultiChoice SA in die tydperk 2003-2009. Gedurende sy termyn as finansiële hoof was hy onder meer verantwoordelik vir sleutelstrategieformulering. Afgesien van sy oorkoepelende finansiële verantwoordelikheid, het hy ook aan die spits gestaan van die implementering van korporatiewe bestuurstoesig en risikobestuur, trusteeskap oor die mediese en pensioenfondse, en die uiters belangrike SEB-nakoming. In noue samewerking met Nolo Letele het hy help toesien dat ’n fenomenale miljoen-plus dekodeerders verkoop word, en dat die sakestrategie verander word om die ontluikende mark te betrek. Hy het ook toesig gehou oor die bekendstelling van ’n nuwe boeket, DStv Compact, asook die ongelooflik gewilde persoonlike video-opnemer (PVO). Nico het BCom (Honneurs) aan die Randse Afrikaanse Universiteit verwerf. Sy eerste poging om deur deeltydse studie as GR (SA) te kwalifiseer was suksesvol. By PricewaterhouseCoopers het hy twee jaar lank aan ’n sekonderingsprogram na die VSA deelgeneem en suiwer op telekommunikasiekliënte gefokus. Met sy skuif na MIH Beherend het hy sy loopbaan as ouditeur verruil vir die handelswêreld om sy sakevaardighede uit te brei.


 

Patricia van Rooyen

Uitvoerende Hoof: M-Net

Patricia is in Maart 2008 as die uitvoerende hoof van M-Net aangestel. Voor dit was sy nege jaar lank hoof van die tydskrifafdeling in die groep – Media24 Tydskrifte. Voordat sy by die Naspers-groep aangesluit het, was sy uitvoerende hoof van die saketydskrifafdeling by Avusa (voorheen Johncom). Patricia het ’n BA-graad en sy het MBA aan Wits se Sakeskool verwerf.


 

Brandon Foot

Waarnemende Uitvoerende Hoof: SuperSport

Brandon Foot het die grade BLC en LLB en 'n diploma in sportreg verwerf. Hy het 19 jaar lank as 'n prokureur van die Hoë Hof van Suid-Afrika gepraktiseer. Gedurende hierdie tyd was hy aktief betrokke by sportadministrasie, as president van die Noordelike Krieketunie en voorsitter van die Titane se krieketfranchise. Hy was ook 'n direkteur van Krieket Suid-Afrika en voorsitter van dié liggaam se Regskomitee. Brandon het in Oktober 2007 as regsadviseur by SuperSport aangesluit. In April 2010 is hy as hoof van die Verkrygings- en Regsafdeling aangestel en in Oktober 2013 as waarnemende uitvoerende hoof van SuperSport.


 

John Kotsaftis

Uitvoerende Hoof: DStv Digital Media

John Kotsaftis het in 2003 by die Naspers-groep aangesluit. Voordat hy by die betaaltelevisie-onderneming begin het, was hy tegniese hoof van Naspers se Internet-afdeling. In hierdie pos het hy wêreldwyd gereis as deel van die samesmeltings- & verkrygingspan van die groep, en ook 'n wêreldwye internetnavorsings- en ontwikkelingseenheid vir Naspers op die been gebring. Hierdie SWAT-eenheid (Strategic Worldwide Applications & Technologies) is gesetel in Beijing, Sao Paulo en Kaapstad. By DStv is hy verantwoordelik vir al die ontluikende platforms van die betaaltelevisie-onderneming, waaronder die OTT- (Over-the-Top) en video-op-aanvraag-produkte soos BoxOffice / DStv Catchup.<0} Sy besigheid ontwikkel en bedryf ook DStv Mobile-produkte soos die Drifta en die Walka.


 

Glen Marques

Uitvoerende Hoof: Myriad-programmering

Glen Marques het in 1997 sy loopbaan by die Naspers-groep begin as direkteur van sakeontwikkeling vir SuperSport Internasionaal Beherend Beperk, en in 1999 is hy as bedryfshoof van SuperSport aangestel. Voordat hy by die groep aangesluit het, was hy senior regsadviseur vir die Suid-Afrikaanse Onafhanklike Uitsaai-owerheid (Okosa) en uitvoerende direkteur van die Nasionale Uitsaaiersvereniging. Hy is in Mei 2000 as uitvoerende hoof van M-Net aangestel. In 2008 is Glen aangestel as uitvoerende hoof van MediaZone Inc, met sy kantoor in San Francisco. In 2009 is die onderneming na Suid-Afrika geskuif en gekonsolideer in DSTV On-Line, die sake-eenheid wat al MultiChoice se nuwe mediabedrywighede huisves.


 

Francois Theron

Uitvoerende Hoof: MWEB SA

Francois Theron het ’n BCom-graad (Bemarking) en het MBA aan die Universiteit van Kaapstad se Sakeskool behaal. Hy het 14 jaar plaaslike sowel as internasionale ondervinding in die subskripsietelevisie- en die telekommunikasiebedryf. Hy het in 1995 by die MIH-groep aangesluit as uitvoerende hoof van M-Tel, ’n diensverskaffermaatskappy vir MTN. In 1996 is M-Tel aan MTN verkoop en is hy aangestel as uitvoerende hoof van MultiChoice Midde-Ooste en MultiChoice Egipte, met Dubai as basis. In 1999 het Francois na Thailand geskuif as uitvoerende hoof van United Broadcasting Corporation (UBC), ’n publiek genoteerde maatskappy. Gedurende sy ampstermyn het hy die verliesmakende besigheid in ’n winsgewende onderneming omskep en in die hoofdireksie van die Asian Cable & Satellite Association gedien. In 2006 het Francois na Suid-Afrika teruggekeer as uitvoerende hoof van DStv MOBILE Africa, wat gelei het tot die ontwikkeling en ontplooiing van MIH se DVB-H-werksaamhede in Afrika. In 2009 is hy as uitvoerende hoof van DStv MOBILE aangestel.